Maandag 07 Maart 2016

Die potensiaal van die tegnologie-bemiddelde self-gerigte leerproses

Die standaarde wat onderwys stelsels stel, beperk die bewustheid waarna digitale pedagogie streef. Kritiese digitale pedagogoë moet bewus word van die standaarde van Informasie en Kommunikasie Tegnologie (ICT) literatuur, aangesien hierdie standaarde die leer omstandighede kan domineer. Verskeie wêreld organisasies  en regerings bemark ICT literatuur standaarde. Die probleem is egter dat hierdie standaarde beperk is, en dus ook beperkend is ten opsigte van leer en onderrig.

Paulo Freire skryf in Pedagogy of the Oppressed dat onderrig moet begin met die oplossing van die onderwyser-leerder teenstrydigheid. Dit is die eerste stap om leerders en onderwysers bewus te maak van hulle posisies en moontlikhede in ‘n beperkende onderrig sisteem. ‘n Onderrig sisteem waar beide onderwysers en leerders ingeperk is deur hulle rolle – waar die onderwysers kennis deposito’s maak en leë bank kluise passief hierdie deposito’s ontvang. Onderwysers kan in beheer bly as gevolg van die standaarde wat gestel word, maar omdat hulle nie meer in die posisie is om self te besluit watter inligting nodig is om te deponeer nie, het onderwysers verval in marionet leiers.

‘n Verdere probleem met die ICT literatuur standaarde wat daar gestel word vir leerders en onderwysers, is die onvolledige prentjie oor hoe kommunikasie kan plaasvind tussen verskillende globale gemeenskappe. Adam Banks skryf in Race, Rhetoric, and Technology dat toegang tot tegnologie nie net bepaal word deur wie ‘n rekenaar besit en wie nie. Dit word in ‘n groot mate ook bepaal deur wie die vermoë het om ‘n rekenaar te gebruik, wie die inligting kan gebruik , en ook watter inligting gebruik moet word. ICT literatuur standaarde neem aan dat al die kommunikeerders  gelyk ingesluit kan word in die opvoedkundige gesprekke en vermy dus die kompleksiteit en die uitdagings wat gepaardgaan daarmee. Onderwysers moet eerder strewe na opregte pogings om leerders in te sluit by die kommunikasie proses.

Die ICT literatuur standaarde verwys ook na digitale tegnologie as aanvullings vir die kern vakke. As gevolg van hierdie standaarde wat daargestel is, word digitale tegnologie gesien as hulpmiddels waarmee daar geleer kan word, eerder as ‘n dinamiese proses waardeur daar geleer kan word. Indien hierdie tegnologie benader word asof dit ‘n leerproses is, en op ‘n speelse manier aangewend word , kan dit lei tot belangrike ontdekkings en diep intellektuele ondersoek. Die  nuwe digitale hulpmiddels wat beskikbaar is vir studente, het die deure oopgemaak vir kreatiwiteit, verbeelding en leerder-gerigte leer.

“If you want to build a ship, don’t drum up the men to gather wood, devide the work and give orders. Instead, teach them to yearn for the vast and endless sea.” Hierdie is die wyse woorde van Antoine de Saint-Exupery. Die grootste probleem van ons onderwys sisteem en skole is dat daar ‘n groot hoeveelheid onderwysers is wat nie die leerders effektief motiveer en nuuskierigheid by die leerders kweek nie. Dit is grotendeels die skuld van die rigiede onderwys strukture en stelsels wat die leerders in “boksies plaas”  en keer dat hulle onafhanklik kan ontwikkel. Baie leerders voel asof hulle hul kreatiwiteit eenkant toe moet skuif wanneer hulle by die skool is. Wanneer leerders toegelaat word om buite die boks te dink en self navorsing te doen oor onderwerpe wat hulle interesseer, sal hulle meer selfversekerd word en belangstelling ontwikkel in verskeie vakgebiede.

Juis om hierdie probleem op te los, het ‘n groep leerders die Independent Project begin. Hierdie groep fokus daarop om meer praktiese werk te doen, sowel as om interessante vrae te vra en navorsing daaroor te doen. Hierdie groep is gebaseer op interaktiewe ondersteuning aangesien die groeplede kritiese terugvoering gee wat hulle nader sal bring aan hulle doel. Dit is egter ‘n groot verantwoordelikheid om deel te wees van so ‘n studiegroep, aangesien daar heeltyd seker gemaak moet word dat die regte vrae gevra word, navorsing gedoen word en ook korrek aangebied word aan ander.


Hierdie metode van leer is ‘n effektiewe oplossing vir die rigiede standaarde wat aan leerders en onderwysers gestel word. Leerders wat self navorsing doen en digitale hulpmiddels gebruik om by antwoorde uit te kom, voel in beheer en leer hoe om struikelblokke effektief te hanteer. Wanneer leerders toegelaat word om verantwoordelikheid te neem, kan daar wonderlike goed gebeur. Leerders vul mekaar aan en leer om die regte vrae te vra, hoe om navorsing te doen deur van verskeie bronne gebruik te maak, en hoe om dit aan te bied sodat ander ook daaruit kan leer. Hierdie benadering van leer laat leerders voel asof hulle in beheer is van hulle eie onderrig. Die leerders is nie net ontvangers van kennis nie, maar die skrywers van hulle eie onderrig ervaring. Hierdie program het groot potensiaal en dit moet uitgebrei word na so veel as moontlik skole. Ted Sizer slaan die spyker op sy kop met die volgende woorde: “Inspiration, hunger: these are the forces that drive good schools. The best we educational planners can do is create the most likely conditions for them to flourish and then get out of their way.” 

1 opmerking:

  1. Mej. Brink. Ek dink dat dit moeilik is om leerders te motiveer as jy as opvoeder vasgevang is in n sisteem wat bureaukraties funksioneer. Ek bedoel, ek wil so graag n regte verandering in die ervaring van leerders bring, maar die CAPS sit die opvoeders en leerders albei in n boks. Ek voel dat skole as instansies nie regtig bydrae tot die opvoedkundige proses nie want hulle funksioneer as besighede en op die einde van die dag focus hulle op statistieke. Die standaarde van skole forseer leerders om vakke te doen waaraan hulle nie belangstel nie. Dit help nie die leerproses aan nie. Ons almal het verkillennde sterktes en belangstellings. Ek dink jy het baie gevaarlik 'engage' met die artikel en video.

    AntwoordVee uit