Dinsdag 05 April 2016

Die Potensiaal van die Interaktiewe Witborde in die klaskamer

Wat is ‘n Interaktiewe Witbord (IWB)? Dit is die vraag wat meeste menses al vrae indien hulle dié naam hoor. Ek was bevoorreg om in ‘n skool te wees waar hierdie tipe tegnologie gebruik is, maar moes egter verder navorsing gaan doen het om die werklike potensiaal van hierdie Interaktiewe Witborde te ontdek…maar kom ons begin by die begin – wat is IWB?
‘n Interaktiewe Witbord is ‘n groot interaktiewe skerm wat gekoppel is aan ‘n rekenaar. ‘n Projekter word gebruik om die rekenaar se beeld op die witbord te projekteer. Die eienskap wat hierdie witbord egter onderskei van die normale wit skerm of wit muur wat in die verlede gebruik is, is die feit dat jy die rekenaar kan beheer deur met jou vingers of spesiale penne op die Interaktiewe Witbord te ‘click” of skryf. Hierdie borde het baie nut in verskeie omgewings, maar ek gaan spesifiek focus op die voordele en gebruike daarvan in die klaskamer.
Hierdie Interaktiewe Witborde kan gebruik word om op die internet te gaan en interessante videos of foto’s in jou vakgebied te wys vir die leerders. Die notas wat op die bord geskryf word, kan ook gestoor word op die rekenaar wat gekoppel is aan die bord. Die rekanaar wat aan die witbord gekoppel is kan ook beheer word deur funksies op die witbord. Dit beteken dat die onderwyser voor in die klas kan staan by die bord en nie hoef rond te loop om die rekenaar te beheer nie. Sekere sagteware kan ook gebruik word om die notas wat geskryf word op die bord om te sit in teks wat dan weer aan die leerders uitgedeel kan word. Die Interaktiewe Witbord tree op as ‘n muis en ‘n sleutelbord, en daarom kan die onderwyser ‘ volle les aanbied deur net gebruik te maak van die IWB met al die nodige funksies. Die IWB het ook bykomende funksies wat spesifiek ontwerp is  om interaksie tussen die leerder en die onderwyser te verbeter. Hierdie funksies sluit in penne, highlighters, liniale, gradeboë en selfs papier flipkaarte wat in die tradisionele klaskamer gebruik is.
Hierdie Interaktiewe Witborde het onderrig vergemaklik en verbeter. Die IWB bied die funksie aan die onderwyser om sy/haar lesse op te neem. Dit beteken dat dit moontlik is om aan leerders hierdie aanbiedinge te gee sodat hulle self weer by die huis deur die les  gaan en na die onderwyser se woorde kan luister. IWB bevorder ook groep interaksie, groep besprekings en deelname van almal. Hierdie tegnologie kan ook die leer van die leerders vergemaklik en bied baie moontlikhede vir die verbetering van onderrig in ‘n klaskamer. Die IWB is definitief ‘n goeie belegging en kan net tot voordeel van die leerders wees.


Woensdag 16 Maart 2016

Die interaksie tussen pastorale sorg, effektiewe onderrig en die gebruik van hulpmiddels in die klaskamer

Volgens Foley (2014) is daar verskeie faktore wat bydra tot die perfekte leeromgewing wat optimale leer van die leerders sal verseker. Hierdie optimale leeromgewing kan geskep word deur pastorale sorg van leerders, effektiewe onderrig strategieë te gebruik en beskikbare hulpbronne nuttig en tot die leerders se voordeel aan te wend.

Pastorale sorg deurdring al die ander aspekte. Dit versterk die Kurrikulum en dit stel leerders in staat om te floreer. Pastorale sorg moet deel gemaak word van die skool kultuur aangesien die gesondheid en welstand van die leerders, sowel as die onderwysers, noodsaaklik is vir die effektiewe funksionering van ‘n skool. Pastorale sorg kan in die klaskamer toegepas of geïmplementeer word deur die onderwyser. ‘n Onderwyser wat altyd toeganklik is, ‘n atmosfeer van ope kommunikasie skep en luister na die leerders se kommer en sorge, sal pastorale sorg fasiliteer. Verder moet die onderwyser ook goeie onderrig bied in fondasie vaardighede en empatie toon teenoor leerders se omstandighede. Dit is belangrik dat onderwysers vir leerders met ongunstige omstandighede toerus met die nodige hulpmiddels en vaardighede om sodoende ‘n positiewe uitkoms te verseker. Onderwysers moet ook paraat wees en ingryp wanneer leerders geteister of geboelie word deur ander leerders. Pastorale sorg kan ook bewerkstellig word deur pro-sosiale interaksie met leerders, byvoorbeeld die onthou van leerders se verjaarsdae en belangrike familie gebeurtenisse.

Effektiewe onderrig kan verkry word deur akademiese-, gedrag- en sosiale elemente te integreer om sodoende ‘n positiewe klas omgewing te skep. Só ‘n positiewe klas omgewing kan geskep word deur leer doelwitte te prioritiseer deur die hoof idees uit te lig. Tyd in die klaskamer moet ook effektief gebruik word om sodoende te verseker dat die leerders se aandag behou word. Onderwysers moet baie geleenthede skep vir die leerders om aktief betrokke te kan wees, en daar moet ook seker gemaak word dat daar voldoende terugvoering aan die leerders verskaf word. ‘n Positiewe klas omgewing kan ook verder aangemoedig word deur die tafels so te rangskik dat dit die leerproses komplimenteer. Dit is ook belangrik dat daar ‘n gevoel van wedersydse respek sal heers tussen die leerders en die onderwyser. Dit is egter ook belangrik dat hierdie positiewe omgewing verder uitgebrei word om ook positiewe huis en skool verhoudings te ontwikkel. Onderwysers moet ook verskeie onderrig strategieë  inkorporeer, sodat al die leerders ‘n positiewe leer ervaring, sowel as positiewe akademiese uitkomstes sal behaal. ‘n Klaskamer moet ook ‘n emosioneel veilige omgewing wees waar respek vir mekaar aangemoedig word.

Die laaste faktor wat optimale leer kan bevorder, is om die beskikbare hulpbronne doeltreffend aan te wend. Dit is baie belangrik dat jy as onderwyser sal weet watter hulpbronne tot jou beskikking is, en ook hoe om hierdie middels aan te wend om leer te verbeter. Onderwysers moet gebruik maak van verskillende hulpmiddels (nuut en tradisioneel) om sodoende die klasse meer interessant te maak vir die leerders.

Abby Wills kry dit reg om die bogenoemde elemente reg aan te wend om sodoende haar klas interessant te hou en optimale leer te verseker. Hierdie elemente oorvleuel met mekaar om die beste akademiese-, gedrag- en sosiale omgewing te skep. Ons as onderwysers moet net kreatief en braaf genoeg wees om hierdie strategieë deel te maak van ons klasse.


Maandag 07 Maart 2016

Die potensiaal van die tegnologie-bemiddelde self-gerigte leerproses

Die standaarde wat onderwys stelsels stel, beperk die bewustheid waarna digitale pedagogie streef. Kritiese digitale pedagogoë moet bewus word van die standaarde van Informasie en Kommunikasie Tegnologie (ICT) literatuur, aangesien hierdie standaarde die leer omstandighede kan domineer. Verskeie wêreld organisasies  en regerings bemark ICT literatuur standaarde. Die probleem is egter dat hierdie standaarde beperk is, en dus ook beperkend is ten opsigte van leer en onderrig.

Paulo Freire skryf in Pedagogy of the Oppressed dat onderrig moet begin met die oplossing van die onderwyser-leerder teenstrydigheid. Dit is die eerste stap om leerders en onderwysers bewus te maak van hulle posisies en moontlikhede in ‘n beperkende onderrig sisteem. ‘n Onderrig sisteem waar beide onderwysers en leerders ingeperk is deur hulle rolle – waar die onderwysers kennis deposito’s maak en leë bank kluise passief hierdie deposito’s ontvang. Onderwysers kan in beheer bly as gevolg van die standaarde wat gestel word, maar omdat hulle nie meer in die posisie is om self te besluit watter inligting nodig is om te deponeer nie, het onderwysers verval in marionet leiers.

‘n Verdere probleem met die ICT literatuur standaarde wat daar gestel word vir leerders en onderwysers, is die onvolledige prentjie oor hoe kommunikasie kan plaasvind tussen verskillende globale gemeenskappe. Adam Banks skryf in Race, Rhetoric, and Technology dat toegang tot tegnologie nie net bepaal word deur wie ‘n rekenaar besit en wie nie. Dit word in ‘n groot mate ook bepaal deur wie die vermoë het om ‘n rekenaar te gebruik, wie die inligting kan gebruik , en ook watter inligting gebruik moet word. ICT literatuur standaarde neem aan dat al die kommunikeerders  gelyk ingesluit kan word in die opvoedkundige gesprekke en vermy dus die kompleksiteit en die uitdagings wat gepaardgaan daarmee. Onderwysers moet eerder strewe na opregte pogings om leerders in te sluit by die kommunikasie proses.

Die ICT literatuur standaarde verwys ook na digitale tegnologie as aanvullings vir die kern vakke. As gevolg van hierdie standaarde wat daargestel is, word digitale tegnologie gesien as hulpmiddels waarmee daar geleer kan word, eerder as ‘n dinamiese proses waardeur daar geleer kan word. Indien hierdie tegnologie benader word asof dit ‘n leerproses is, en op ‘n speelse manier aangewend word , kan dit lei tot belangrike ontdekkings en diep intellektuele ondersoek. Die  nuwe digitale hulpmiddels wat beskikbaar is vir studente, het die deure oopgemaak vir kreatiwiteit, verbeelding en leerder-gerigte leer.

“If you want to build a ship, don’t drum up the men to gather wood, devide the work and give orders. Instead, teach them to yearn for the vast and endless sea.” Hierdie is die wyse woorde van Antoine de Saint-Exupery. Die grootste probleem van ons onderwys sisteem en skole is dat daar ‘n groot hoeveelheid onderwysers is wat nie die leerders effektief motiveer en nuuskierigheid by die leerders kweek nie. Dit is grotendeels die skuld van die rigiede onderwys strukture en stelsels wat die leerders in “boksies plaas”  en keer dat hulle onafhanklik kan ontwikkel. Baie leerders voel asof hulle hul kreatiwiteit eenkant toe moet skuif wanneer hulle by die skool is. Wanneer leerders toegelaat word om buite die boks te dink en self navorsing te doen oor onderwerpe wat hulle interesseer, sal hulle meer selfversekerd word en belangstelling ontwikkel in verskeie vakgebiede.

Juis om hierdie probleem op te los, het ‘n groep leerders die Independent Project begin. Hierdie groep fokus daarop om meer praktiese werk te doen, sowel as om interessante vrae te vra en navorsing daaroor te doen. Hierdie groep is gebaseer op interaktiewe ondersteuning aangesien die groeplede kritiese terugvoering gee wat hulle nader sal bring aan hulle doel. Dit is egter ‘n groot verantwoordelikheid om deel te wees van so ‘n studiegroep, aangesien daar heeltyd seker gemaak moet word dat die regte vrae gevra word, navorsing gedoen word en ook korrek aangebied word aan ander.


Hierdie metode van leer is ‘n effektiewe oplossing vir die rigiede standaarde wat aan leerders en onderwysers gestel word. Leerders wat self navorsing doen en digitale hulpmiddels gebruik om by antwoorde uit te kom, voel in beheer en leer hoe om struikelblokke effektief te hanteer. Wanneer leerders toegelaat word om verantwoordelikheid te neem, kan daar wonderlike goed gebeur. Leerders vul mekaar aan en leer om die regte vrae te vra, hoe om navorsing te doen deur van verskeie bronne gebruik te maak, en hoe om dit aan te bied sodat ander ook daaruit kan leer. Hierdie benadering van leer laat leerders voel asof hulle in beheer is van hulle eie onderrig. Die leerders is nie net ontvangers van kennis nie, maar die skrywers van hulle eie onderrig ervaring. Hierdie program het groot potensiaal en dit moet uitgebrei word na so veel as moontlik skole. Ted Sizer slaan die spyker op sy kop met die volgende woorde: “Inspiration, hunger: these are the forces that drive good schools. The best we educational planners can do is create the most likely conditions for them to flourish and then get out of their way.” 

Dinsdag 01 Maart 2016

Sosiale Media: 'n Euwel of 'n Hulpmiddel in die klaskamer?

Should we teach letter-writing in the classroom?
Should we teach email in the classroom?
Should we teach social media in the classroom?

Hierdie is algemene vrae wat deur onderwysers gevra word. Daar bestaan ook verdere vrae oor die rol van sosiale media in die klaskamer. Baie onderwysers is bekommerd oor hoe en of sosiale media gebruik moet word om met leerders te kommunikeer buite die tradisionele klaskamer. Onderwysers is bang dat hulle leerders blootstel aan gevaar indien hulle hulle blootstel aan sosiale media in die klaskamer.

Wat is die antwoorde vir al hierdie vrae? Is dit beter om sosiale media in die klaskamer te vermy, of kan dit dalk net die begin wees van ‘n nuwe opwindende leermetode? Die antwoord is egter eenvoudig: sosiale media is daar om ons lewens te verryk, kommunikasie te vergemaklik en die leerproses te verbeter.

Die mite bestaan dat wanneer onderwysers sosiale media gebruik in hul klaskamers, die leerders sosiale media verkeerd sal aanwend terwyl die onderwyser vir hulle probeer leer. Dit is egter belangrik om nie sosiale media te verwar met sosialisering nie. Dit is ook nie volgens Vicki Davis nodig om die gewildste sosiale media in jou klaskamer te gebruik nie. Sosiale media is tot ons beskikking en hoef nie ‘n afleiding te wees van leer nie. Sosiale media moet gesien word as ‘n hulpmiddel wat die klaskamer meer interaktief, relevant en divers maak.

In my vakgebiede, wat Lewenswetenskappe, Natuurwetenskappe en Lewensoriëntering insluit, is dit belangrik om sosiale media te gebruik om leer te vrebreed na buite die klaskamer. Sosiale media maak dit moontlik om te kommunikeer met leerders buite die klaskamer. Daar is verskeie sosiale media wat ek kan integreer en handig gebruik in my vakgebiede.

“Remind” is ‘n nuttige hulpmiddel vir onderwysers om te kommunikeer met leerders deur selfone. Hierdie sosiale media hulpmiddel kan nuttig gebruik word deur onderwysers vir een-rigting kommunikasie met leerders, om hulle te herhinner aan take, toetse of huiswerk. “Remind” sal handig gebruik kan word in Lewensoriëntering, aangesien leerders herhinner kan word daaraan om hulle sportklere in te pak vir prakties.

Twitter is ook ‘n goeie hulpmiddel wat gebruik kan word om te kommunikeer met leerders buite die klaskamer. Dit is maklik om die dag se huiswerk te deel met al die leerders. Twitter kan ook baie waardevol wees, veral in ‘n vakgebied soos Natuurwetenskappe. Die onderwyser kan opvoedkundige “links” op Twitter deel met die leerders (soos byvoorbeeld videos van relevante eksperimente). Die leerders kan daarna gaan kyk en sodoende hulle kennis verbreed oor die vakgebied.

Instagram is ook ‘n gewilde metode wat leerders geniet om te gebruik. Jy as onderwyser kan ‘n spesifieke hashtag ontwerp vir die klas, wat almal kan gebruik wanneer hulle opvoedkundige fotos op Instagram oplaai. Hierdie sosiale media hulpmiddel kan handig gebruik word in die Lewenswetenskappe klas, aangesien hierdie vakgebied baie staatmaak op opvoedkundige fotos en diagramme.


Al hierdie bogenoemde metodes kan gebruik word om die klaskamer meer opwindend en interessant te maak vir die leerders. Hoe meer geleenthede daar vir die leerders geskep word om oor die kontent van vakke na te dink, hoe beter sal die leerders die werk verstaan. Sosiale media maak dit moontlik vir onderwysers om informasie aan leerders te stuur op maniere wat nie voorheen moontlik was nie. Deur gebruik te maak van sosiale media, word leer nie net ingeperk tussen die klaskamers se mure nie, maar kan leer ook plaasvind buite ‘n skool. Dit is belangrik vir onderwysers om sosiale media optimaal tot voordeel van die leerder en die leerproses aan te wend.

Dinsdag 23 Februarie 2016

Digitale Pedagogie: Beslis nie 'n dansende aap nie!

“What is the difference between digital pedagogy and teaching online? Aren’t all online teachers digital pedagogues?” Dit is die vraag wat een van Sean Michael Morris se vriende aan hom gevra het. Nee – Dit is die antwoord op die vraag. Nie alle aanlyn onderwysers is digitale pedagoë nie.

Morris verduidelik in sy artikel Decoding Digital Pedagogy, pt. 1: Beyond The LMS, dat digitale pedagogie algemeen misverstaan word en dat ons – die mensdom – nog nie gereed is om aanlyn onderrig te gee nie. Baie mense verwar die konsep van digitale pedagogie met aanlyn onderrig. Dit is egter nie dieselfde ding nie en dit is belangrik dat opvoeders dit sal besef.

Ek moet saamstem met Morris dat die ontstaan van die sogenaamde LMS (Learning Management Systym) ‘n fout was. Hierdie sisteem het slegs gemaak dat eentonige lesse wat voorheen sonder tegnologie aangebied is, nou aanlyn aangebied kan word. Die probleem is egter dat dit nie die leeromgewing verbeter of interessant gemaak het nie, maar eerder net ‘n verskuiwing was van hoe die les aangebied word. Hierdie onderrig metode is feitlik niks anders as die vervelige tradisionele manier van onderrig deur besprekings en opdragte nie. Ontwerp ‘n PowerPoint , maak ‘n video of ‘n klankopname, plaas dit op die internet en siedaar – daar het jy aanlyn onderrig! Dit is net weer ‘n herhaling van die vervelige metodes wat in ‘n klaskamer kon geskied. Nie net het die kwaliteit van leer afgeneem met die ontstaan van die LMS nie, dit het ook gelei tot die misverstand dat LMS sinoniem is aan pedagogie. Dit is die groot rede hoekom ek saamstem met Morris dat ons nog nie gereed is om aanlyn onderrig te gee nie.

Digitale pedagogie is presies die teenoorgestelde van aanlyn onderrig. Digitale pedagoë improviseer, eksperimenteer, kyk na verskillende onderrig metodes en betrek leerders by die leerproses. Hierdie manier van onderrig maak leer interessant en daag leerders uit om meer te wil leer. In sy artikel Decoding Digital Pedagogy, Pt. 2: (Un)mapping the terrain, gebruik Jesse Stommel die interessante vergelyking dat digitale pedagogie nie ‘n dansende aap is nie. Dit gebeur nie net sommer nie, en daar is ook nie ‘n presiese resep daarvoor nie. Onderwysers word slegs digitale pedagoë deur jare se navorsing, oefening en onderrig van digitale pedagogies.

Steeds word digitale pedagogie verkeerdelik verwar met die gebruik van elektroniese middels. Dit is waar dat goeie digitale hulpmiddels die gebruiker help om onderrig te verryk, maar net so is dit ook waar dat swak digitale hulpmiddels onderwysers beperk en pedagogie oorheers. Dit is om hierdie rede belangrik om onderskeid te tref tussen die twee scenario’s en om te kies om ‘n digitale pedagoog te wees wat hulpmiddels gebruik om te leer in plaas van om toe te laat dat die hulpmiddels beperkings stel.


Dit is belangrik dat ons onderwysers van die toekoms sal besef dat digitale pedagogie nie die gebruik van elektroniese hulpmiddels beteken nie. Digitale pedagogie is eerder ‘n onderrig metode waar die leerders sentraal geplaas moet word en die onderwyser gedurig hulpmiddels tot hul beskikking interessant en effektief moet aanwend. 

Woensdag 17 Februarie 2016

Pulling the plug on Digital Pedagogy

Die neiging om onderrig digitaal aan te bied, het die afgelope paar jaar baie gewild geword in ons vinnig veranderende tegnologiese wêreld.  Baie onsekerheid bestaan egter oor wat digitale pedagogie presies behels, en die wanbegrip dat dit slegs elektronies en deur middel van tegnologie gedoen kan word, is algemeen.  Dalk bestaan hierdie wanbegrip juis omdat baie min mense werklik weet wat digitale pedagogie is. So wat is digitale pedagogie? Digitale pedagogie word gedefinieer as die gebruik van tegnologie as poging om die ervaring van onderrig te verryk of te verander.

Wanneer mens dink aan digitale pedagogie en hoe om klas aanbiedinge meer interessant te maak, is meeste onderwysers geneig om eerste na tegnologie te hardloop. Die siening dat ‘n PowerPoint aanbieding of ‘n kort video vanaf die internet die leerders se aandag sal hou, is egter ‘n wanbegrip wat bestaan.  In sy artikel Digital Pedagogy Unplugged, verduidelik Paul Fyfe dat digitale pedagogie nie noodwendig elektronies hoef te wees nie. Hy verduidelik verder dat daar verskeie nie-elektroniese pedagogiese strategieë bestaan wat net so effektief aangewend kan word om onderrig te verbeter en die leerders se aandag te behou.

Die eerste strategie wat Fyfe aanraak in die artikel is die sogenaamde “Teaching Naked” strategie wat José Bowen voorgestel het. Nou wat presies word bedoel met “Teaching Naked”? Dit behels die aanbieding van lesse sonder die gebruik van tegnologie (Byvoorbeeld sonder rekenaars en ‘n projektor). Bowen is van mening dat die normale PowerPoint aanbiedinge vervelig kan raak, maar hy is wel ‘n voorstaander van aanlyn besprekingsgroepe en PowerPoint skyfies buite die klas omgewing. Bowen verkies egter die tradisionele vraag-antwoord klasbesprekings (sonder die gebruik van elektroniese hulpmiddels) om sy leerders se aandag te behou.

Nog ‘n strategie wat Fyfe aanraak in die artikel is die “Work in the Text Mines” benadering. Brad Pasanek is van mening dat digitale tekste en tegnologie dit maklik gemaak het om spesifieke terme te identifiseer sonder om die hele teks te lees. Hy verduidelik verder dat dit nie noodwendig ‘n goeie verwikkeling is nie. Met dié dat dit so maklik is om kern konsepte te identifiseer, doen leerders nie meer moeite om die hele teks te lees nie. Gevolglik het hulle nie so ‘n goeie begrip oor die boek in geheel nie. Hy stel voor dat leerders gebruik moet maak van verkillende kleur highligters wanneer hulle tekste deurlees, om sodoende verskillende idees te kategoriseer. Leerders sal dan ‘n goeie begrip hê oor die teks as geheel, maar sal ook instaat wees om kern konsepte te identifiseer.

John Dewey het die volgende stelling gemaak: “If we teach today as we taught yesterday, we rob our children of tomorrow.” Ek stem in ‘n mate saam met Dewey. In ‘n wêreld wat draai rondom tegnologie, is dit tog nodig om tegnologie deel te maak van opvoeding. Tegnologie kan bydra tot die verryking van klas aanbiedinge, maar dit moet egter spaarsamig gebruik word om sodoende te verseker dat dit nie verval in ‘n vervelige gewoonte nie.

Ek wil graag afsluit met die ware woorde van ‘n graad een onderwyser: “Yes, kids love technology, but they also love legos, scented markers, handstands, books and mud puddles. It’s all about balance.” Dit is dus nodig dat daar ‘n balans sal wees tussen die gebruik van tegnologie en meer tradisionele metodes om sodoende klas aanbiedinge meer interessant te maak sonder dat dit verval in ‘n vervelige gewoonte.