Woensdag 16 Maart 2016

Die interaksie tussen pastorale sorg, effektiewe onderrig en die gebruik van hulpmiddels in die klaskamer

Volgens Foley (2014) is daar verskeie faktore wat bydra tot die perfekte leeromgewing wat optimale leer van die leerders sal verseker. Hierdie optimale leeromgewing kan geskep word deur pastorale sorg van leerders, effektiewe onderrig strategieë te gebruik en beskikbare hulpbronne nuttig en tot die leerders se voordeel aan te wend.

Pastorale sorg deurdring al die ander aspekte. Dit versterk die Kurrikulum en dit stel leerders in staat om te floreer. Pastorale sorg moet deel gemaak word van die skool kultuur aangesien die gesondheid en welstand van die leerders, sowel as die onderwysers, noodsaaklik is vir die effektiewe funksionering van ‘n skool. Pastorale sorg kan in die klaskamer toegepas of geïmplementeer word deur die onderwyser. ‘n Onderwyser wat altyd toeganklik is, ‘n atmosfeer van ope kommunikasie skep en luister na die leerders se kommer en sorge, sal pastorale sorg fasiliteer. Verder moet die onderwyser ook goeie onderrig bied in fondasie vaardighede en empatie toon teenoor leerders se omstandighede. Dit is belangrik dat onderwysers vir leerders met ongunstige omstandighede toerus met die nodige hulpmiddels en vaardighede om sodoende ‘n positiewe uitkoms te verseker. Onderwysers moet ook paraat wees en ingryp wanneer leerders geteister of geboelie word deur ander leerders. Pastorale sorg kan ook bewerkstellig word deur pro-sosiale interaksie met leerders, byvoorbeeld die onthou van leerders se verjaarsdae en belangrike familie gebeurtenisse.

Effektiewe onderrig kan verkry word deur akademiese-, gedrag- en sosiale elemente te integreer om sodoende ‘n positiewe klas omgewing te skep. Só ‘n positiewe klas omgewing kan geskep word deur leer doelwitte te prioritiseer deur die hoof idees uit te lig. Tyd in die klaskamer moet ook effektief gebruik word om sodoende te verseker dat die leerders se aandag behou word. Onderwysers moet baie geleenthede skep vir die leerders om aktief betrokke te kan wees, en daar moet ook seker gemaak word dat daar voldoende terugvoering aan die leerders verskaf word. ‘n Positiewe klas omgewing kan ook verder aangemoedig word deur die tafels so te rangskik dat dit die leerproses komplimenteer. Dit is ook belangrik dat daar ‘n gevoel van wedersydse respek sal heers tussen die leerders en die onderwyser. Dit is egter ook belangrik dat hierdie positiewe omgewing verder uitgebrei word om ook positiewe huis en skool verhoudings te ontwikkel. Onderwysers moet ook verskeie onderrig strategieë  inkorporeer, sodat al die leerders ‘n positiewe leer ervaring, sowel as positiewe akademiese uitkomstes sal behaal. ‘n Klaskamer moet ook ‘n emosioneel veilige omgewing wees waar respek vir mekaar aangemoedig word.

Die laaste faktor wat optimale leer kan bevorder, is om die beskikbare hulpbronne doeltreffend aan te wend. Dit is baie belangrik dat jy as onderwyser sal weet watter hulpbronne tot jou beskikking is, en ook hoe om hierdie middels aan te wend om leer te verbeter. Onderwysers moet gebruik maak van verskillende hulpmiddels (nuut en tradisioneel) om sodoende die klasse meer interessant te maak vir die leerders.

Abby Wills kry dit reg om die bogenoemde elemente reg aan te wend om sodoende haar klas interessant te hou en optimale leer te verseker. Hierdie elemente oorvleuel met mekaar om die beste akademiese-, gedrag- en sosiale omgewing te skep. Ons as onderwysers moet net kreatief en braaf genoeg wees om hierdie strategieë deel te maak van ons klasse.


Maandag 07 Maart 2016

Die potensiaal van die tegnologie-bemiddelde self-gerigte leerproses

Die standaarde wat onderwys stelsels stel, beperk die bewustheid waarna digitale pedagogie streef. Kritiese digitale pedagogoë moet bewus word van die standaarde van Informasie en Kommunikasie Tegnologie (ICT) literatuur, aangesien hierdie standaarde die leer omstandighede kan domineer. Verskeie wêreld organisasies  en regerings bemark ICT literatuur standaarde. Die probleem is egter dat hierdie standaarde beperk is, en dus ook beperkend is ten opsigte van leer en onderrig.

Paulo Freire skryf in Pedagogy of the Oppressed dat onderrig moet begin met die oplossing van die onderwyser-leerder teenstrydigheid. Dit is die eerste stap om leerders en onderwysers bewus te maak van hulle posisies en moontlikhede in ‘n beperkende onderrig sisteem. ‘n Onderrig sisteem waar beide onderwysers en leerders ingeperk is deur hulle rolle – waar die onderwysers kennis deposito’s maak en leë bank kluise passief hierdie deposito’s ontvang. Onderwysers kan in beheer bly as gevolg van die standaarde wat gestel word, maar omdat hulle nie meer in die posisie is om self te besluit watter inligting nodig is om te deponeer nie, het onderwysers verval in marionet leiers.

‘n Verdere probleem met die ICT literatuur standaarde wat daar gestel word vir leerders en onderwysers, is die onvolledige prentjie oor hoe kommunikasie kan plaasvind tussen verskillende globale gemeenskappe. Adam Banks skryf in Race, Rhetoric, and Technology dat toegang tot tegnologie nie net bepaal word deur wie ‘n rekenaar besit en wie nie. Dit word in ‘n groot mate ook bepaal deur wie die vermoë het om ‘n rekenaar te gebruik, wie die inligting kan gebruik , en ook watter inligting gebruik moet word. ICT literatuur standaarde neem aan dat al die kommunikeerders  gelyk ingesluit kan word in die opvoedkundige gesprekke en vermy dus die kompleksiteit en die uitdagings wat gepaardgaan daarmee. Onderwysers moet eerder strewe na opregte pogings om leerders in te sluit by die kommunikasie proses.

Die ICT literatuur standaarde verwys ook na digitale tegnologie as aanvullings vir die kern vakke. As gevolg van hierdie standaarde wat daargestel is, word digitale tegnologie gesien as hulpmiddels waarmee daar geleer kan word, eerder as ‘n dinamiese proses waardeur daar geleer kan word. Indien hierdie tegnologie benader word asof dit ‘n leerproses is, en op ‘n speelse manier aangewend word , kan dit lei tot belangrike ontdekkings en diep intellektuele ondersoek. Die  nuwe digitale hulpmiddels wat beskikbaar is vir studente, het die deure oopgemaak vir kreatiwiteit, verbeelding en leerder-gerigte leer.

“If you want to build a ship, don’t drum up the men to gather wood, devide the work and give orders. Instead, teach them to yearn for the vast and endless sea.” Hierdie is die wyse woorde van Antoine de Saint-Exupery. Die grootste probleem van ons onderwys sisteem en skole is dat daar ‘n groot hoeveelheid onderwysers is wat nie die leerders effektief motiveer en nuuskierigheid by die leerders kweek nie. Dit is grotendeels die skuld van die rigiede onderwys strukture en stelsels wat die leerders in “boksies plaas”  en keer dat hulle onafhanklik kan ontwikkel. Baie leerders voel asof hulle hul kreatiwiteit eenkant toe moet skuif wanneer hulle by die skool is. Wanneer leerders toegelaat word om buite die boks te dink en self navorsing te doen oor onderwerpe wat hulle interesseer, sal hulle meer selfversekerd word en belangstelling ontwikkel in verskeie vakgebiede.

Juis om hierdie probleem op te los, het ‘n groep leerders die Independent Project begin. Hierdie groep fokus daarop om meer praktiese werk te doen, sowel as om interessante vrae te vra en navorsing daaroor te doen. Hierdie groep is gebaseer op interaktiewe ondersteuning aangesien die groeplede kritiese terugvoering gee wat hulle nader sal bring aan hulle doel. Dit is egter ‘n groot verantwoordelikheid om deel te wees van so ‘n studiegroep, aangesien daar heeltyd seker gemaak moet word dat die regte vrae gevra word, navorsing gedoen word en ook korrek aangebied word aan ander.


Hierdie metode van leer is ‘n effektiewe oplossing vir die rigiede standaarde wat aan leerders en onderwysers gestel word. Leerders wat self navorsing doen en digitale hulpmiddels gebruik om by antwoorde uit te kom, voel in beheer en leer hoe om struikelblokke effektief te hanteer. Wanneer leerders toegelaat word om verantwoordelikheid te neem, kan daar wonderlike goed gebeur. Leerders vul mekaar aan en leer om die regte vrae te vra, hoe om navorsing te doen deur van verskeie bronne gebruik te maak, en hoe om dit aan te bied sodat ander ook daaruit kan leer. Hierdie benadering van leer laat leerders voel asof hulle in beheer is van hulle eie onderrig. Die leerders is nie net ontvangers van kennis nie, maar die skrywers van hulle eie onderrig ervaring. Hierdie program het groot potensiaal en dit moet uitgebrei word na so veel as moontlik skole. Ted Sizer slaan die spyker op sy kop met die volgende woorde: “Inspiration, hunger: these are the forces that drive good schools. The best we educational planners can do is create the most likely conditions for them to flourish and then get out of their way.” 

Dinsdag 01 Maart 2016

Sosiale Media: 'n Euwel of 'n Hulpmiddel in die klaskamer?

Should we teach letter-writing in the classroom?
Should we teach email in the classroom?
Should we teach social media in the classroom?

Hierdie is algemene vrae wat deur onderwysers gevra word. Daar bestaan ook verdere vrae oor die rol van sosiale media in die klaskamer. Baie onderwysers is bekommerd oor hoe en of sosiale media gebruik moet word om met leerders te kommunikeer buite die tradisionele klaskamer. Onderwysers is bang dat hulle leerders blootstel aan gevaar indien hulle hulle blootstel aan sosiale media in die klaskamer.

Wat is die antwoorde vir al hierdie vrae? Is dit beter om sosiale media in die klaskamer te vermy, of kan dit dalk net die begin wees van ‘n nuwe opwindende leermetode? Die antwoord is egter eenvoudig: sosiale media is daar om ons lewens te verryk, kommunikasie te vergemaklik en die leerproses te verbeter.

Die mite bestaan dat wanneer onderwysers sosiale media gebruik in hul klaskamers, die leerders sosiale media verkeerd sal aanwend terwyl die onderwyser vir hulle probeer leer. Dit is egter belangrik om nie sosiale media te verwar met sosialisering nie. Dit is ook nie volgens Vicki Davis nodig om die gewildste sosiale media in jou klaskamer te gebruik nie. Sosiale media is tot ons beskikking en hoef nie ‘n afleiding te wees van leer nie. Sosiale media moet gesien word as ‘n hulpmiddel wat die klaskamer meer interaktief, relevant en divers maak.

In my vakgebiede, wat Lewenswetenskappe, Natuurwetenskappe en Lewensoriëntering insluit, is dit belangrik om sosiale media te gebruik om leer te vrebreed na buite die klaskamer. Sosiale media maak dit moontlik om te kommunikeer met leerders buite die klaskamer. Daar is verskeie sosiale media wat ek kan integreer en handig gebruik in my vakgebiede.

“Remind” is ‘n nuttige hulpmiddel vir onderwysers om te kommunikeer met leerders deur selfone. Hierdie sosiale media hulpmiddel kan nuttig gebruik word deur onderwysers vir een-rigting kommunikasie met leerders, om hulle te herhinner aan take, toetse of huiswerk. “Remind” sal handig gebruik kan word in Lewensoriëntering, aangesien leerders herhinner kan word daaraan om hulle sportklere in te pak vir prakties.

Twitter is ook ‘n goeie hulpmiddel wat gebruik kan word om te kommunikeer met leerders buite die klaskamer. Dit is maklik om die dag se huiswerk te deel met al die leerders. Twitter kan ook baie waardevol wees, veral in ‘n vakgebied soos Natuurwetenskappe. Die onderwyser kan opvoedkundige “links” op Twitter deel met die leerders (soos byvoorbeeld videos van relevante eksperimente). Die leerders kan daarna gaan kyk en sodoende hulle kennis verbreed oor die vakgebied.

Instagram is ook ‘n gewilde metode wat leerders geniet om te gebruik. Jy as onderwyser kan ‘n spesifieke hashtag ontwerp vir die klas, wat almal kan gebruik wanneer hulle opvoedkundige fotos op Instagram oplaai. Hierdie sosiale media hulpmiddel kan handig gebruik word in die Lewenswetenskappe klas, aangesien hierdie vakgebied baie staatmaak op opvoedkundige fotos en diagramme.


Al hierdie bogenoemde metodes kan gebruik word om die klaskamer meer opwindend en interessant te maak vir die leerders. Hoe meer geleenthede daar vir die leerders geskep word om oor die kontent van vakke na te dink, hoe beter sal die leerders die werk verstaan. Sosiale media maak dit moontlik vir onderwysers om informasie aan leerders te stuur op maniere wat nie voorheen moontlik was nie. Deur gebruik te maak van sosiale media, word leer nie net ingeperk tussen die klaskamers se mure nie, maar kan leer ook plaasvind buite ‘n skool. Dit is belangrik vir onderwysers om sosiale media optimaal tot voordeel van die leerder en die leerproses aan te wend.