“What is the difference between digital
pedagogy and teaching online? Aren’t all online teachers digital pedagogues?”
Dit is die vraag wat een van Sean Michael Morris se vriende aan hom gevra het. Nee
– Dit is die antwoord op die vraag. Nie alle aanlyn onderwysers is digitale
pedagoë nie.
Morris verduidelik in sy artikel Decoding Digital Pedagogy, pt. 1: Beyond The
LMS, dat digitale pedagogie algemeen misverstaan word en dat ons – die
mensdom – nog nie gereed is om aanlyn onderrig te gee nie. Baie mense verwar
die konsep van digitale pedagogie met aanlyn onderrig. Dit is egter nie
dieselfde ding nie en dit is belangrik dat opvoeders dit sal besef.
Ek moet saamstem met Morris dat die ontstaan
van die sogenaamde LMS (Learning Management Systym) ‘n fout was. Hierdie
sisteem het slegs gemaak dat eentonige lesse wat voorheen sonder tegnologie
aangebied is, nou aanlyn aangebied kan word. Die probleem is egter dat dit nie die
leeromgewing verbeter of interessant gemaak het nie, maar eerder net ‘n verskuiwing
was van hoe die les aangebied word. Hierdie onderrig metode is feitlik niks
anders as die vervelige tradisionele manier van onderrig deur besprekings en
opdragte nie. Ontwerp ‘n PowerPoint , maak ‘n video of ‘n klankopname, plaas
dit op die internet en siedaar – daar het jy aanlyn onderrig! Dit is net weer ‘n
herhaling van die vervelige metodes wat in ‘n klaskamer kon geskied. Nie net
het die kwaliteit van leer afgeneem met die ontstaan van die LMS nie, dit het
ook gelei tot die misverstand dat LMS sinoniem is aan pedagogie. Dit is die
groot rede hoekom ek saamstem met Morris dat ons nog nie gereed is om aanlyn
onderrig te gee nie.
Digitale pedagogie is presies die
teenoorgestelde van aanlyn onderrig. Digitale pedagoë improviseer, eksperimenteer,
kyk na verskillende onderrig metodes en betrek leerders by die leerproses.
Hierdie manier van onderrig maak leer interessant en daag leerders uit om meer
te wil leer. In sy artikel Decoding Digital Pedagogy, Pt. 2: (Un)mapping the
terrain, gebruik Jesse Stommel die interessante vergelyking dat digitale
pedagogie nie ‘n dansende aap is nie. Dit gebeur nie net sommer nie, en daar is
ook nie ‘n presiese resep daarvoor nie. Onderwysers word slegs digitale pedagoë
deur jare se navorsing, oefening en onderrig van digitale pedagogies.
Steeds word digitale pedagogie verkeerdelik
verwar met die gebruik van elektroniese middels. Dit is waar dat goeie digitale
hulpmiddels die gebruiker help om onderrig te verryk, maar net so is dit ook waar
dat swak digitale hulpmiddels onderwysers beperk en pedagogie oorheers. Dit is
om hierdie rede belangrik om onderskeid te tref tussen die twee scenario’s en
om te kies om ‘n digitale pedagoog te wees wat hulpmiddels gebruik om te leer
in plaas van om toe te laat dat die hulpmiddels beperkings stel.
Dit is belangrik dat ons onderwysers van die
toekoms sal besef dat digitale pedagogie nie die gebruik van elektroniese
hulpmiddels beteken nie. Digitale pedagogie is eerder ‘n onderrig metode waar
die leerders sentraal geplaas moet word en die onderwyser gedurig hulpmiddels
tot hul beskikking interessant en effektief moet aanwend.