Dinsdag 23 Februarie 2016

Digitale Pedagogie: Beslis nie 'n dansende aap nie!

“What is the difference between digital pedagogy and teaching online? Aren’t all online teachers digital pedagogues?” Dit is die vraag wat een van Sean Michael Morris se vriende aan hom gevra het. Nee – Dit is die antwoord op die vraag. Nie alle aanlyn onderwysers is digitale pedagoë nie.

Morris verduidelik in sy artikel Decoding Digital Pedagogy, pt. 1: Beyond The LMS, dat digitale pedagogie algemeen misverstaan word en dat ons – die mensdom – nog nie gereed is om aanlyn onderrig te gee nie. Baie mense verwar die konsep van digitale pedagogie met aanlyn onderrig. Dit is egter nie dieselfde ding nie en dit is belangrik dat opvoeders dit sal besef.

Ek moet saamstem met Morris dat die ontstaan van die sogenaamde LMS (Learning Management Systym) ‘n fout was. Hierdie sisteem het slegs gemaak dat eentonige lesse wat voorheen sonder tegnologie aangebied is, nou aanlyn aangebied kan word. Die probleem is egter dat dit nie die leeromgewing verbeter of interessant gemaak het nie, maar eerder net ‘n verskuiwing was van hoe die les aangebied word. Hierdie onderrig metode is feitlik niks anders as die vervelige tradisionele manier van onderrig deur besprekings en opdragte nie. Ontwerp ‘n PowerPoint , maak ‘n video of ‘n klankopname, plaas dit op die internet en siedaar – daar het jy aanlyn onderrig! Dit is net weer ‘n herhaling van die vervelige metodes wat in ‘n klaskamer kon geskied. Nie net het die kwaliteit van leer afgeneem met die ontstaan van die LMS nie, dit het ook gelei tot die misverstand dat LMS sinoniem is aan pedagogie. Dit is die groot rede hoekom ek saamstem met Morris dat ons nog nie gereed is om aanlyn onderrig te gee nie.

Digitale pedagogie is presies die teenoorgestelde van aanlyn onderrig. Digitale pedagoë improviseer, eksperimenteer, kyk na verskillende onderrig metodes en betrek leerders by die leerproses. Hierdie manier van onderrig maak leer interessant en daag leerders uit om meer te wil leer. In sy artikel Decoding Digital Pedagogy, Pt. 2: (Un)mapping the terrain, gebruik Jesse Stommel die interessante vergelyking dat digitale pedagogie nie ‘n dansende aap is nie. Dit gebeur nie net sommer nie, en daar is ook nie ‘n presiese resep daarvoor nie. Onderwysers word slegs digitale pedagoë deur jare se navorsing, oefening en onderrig van digitale pedagogies.

Steeds word digitale pedagogie verkeerdelik verwar met die gebruik van elektroniese middels. Dit is waar dat goeie digitale hulpmiddels die gebruiker help om onderrig te verryk, maar net so is dit ook waar dat swak digitale hulpmiddels onderwysers beperk en pedagogie oorheers. Dit is om hierdie rede belangrik om onderskeid te tref tussen die twee scenario’s en om te kies om ‘n digitale pedagoog te wees wat hulpmiddels gebruik om te leer in plaas van om toe te laat dat die hulpmiddels beperkings stel.


Dit is belangrik dat ons onderwysers van die toekoms sal besef dat digitale pedagogie nie die gebruik van elektroniese hulpmiddels beteken nie. Digitale pedagogie is eerder ‘n onderrig metode waar die leerders sentraal geplaas moet word en die onderwyser gedurig hulpmiddels tot hul beskikking interessant en effektief moet aanwend. 

Woensdag 17 Februarie 2016

Pulling the plug on Digital Pedagogy

Die neiging om onderrig digitaal aan te bied, het die afgelope paar jaar baie gewild geword in ons vinnig veranderende tegnologiese wêreld.  Baie onsekerheid bestaan egter oor wat digitale pedagogie presies behels, en die wanbegrip dat dit slegs elektronies en deur middel van tegnologie gedoen kan word, is algemeen.  Dalk bestaan hierdie wanbegrip juis omdat baie min mense werklik weet wat digitale pedagogie is. So wat is digitale pedagogie? Digitale pedagogie word gedefinieer as die gebruik van tegnologie as poging om die ervaring van onderrig te verryk of te verander.

Wanneer mens dink aan digitale pedagogie en hoe om klas aanbiedinge meer interessant te maak, is meeste onderwysers geneig om eerste na tegnologie te hardloop. Die siening dat ‘n PowerPoint aanbieding of ‘n kort video vanaf die internet die leerders se aandag sal hou, is egter ‘n wanbegrip wat bestaan.  In sy artikel Digital Pedagogy Unplugged, verduidelik Paul Fyfe dat digitale pedagogie nie noodwendig elektronies hoef te wees nie. Hy verduidelik verder dat daar verskeie nie-elektroniese pedagogiese strategieë bestaan wat net so effektief aangewend kan word om onderrig te verbeter en die leerders se aandag te behou.

Die eerste strategie wat Fyfe aanraak in die artikel is die sogenaamde “Teaching Naked” strategie wat José Bowen voorgestel het. Nou wat presies word bedoel met “Teaching Naked”? Dit behels die aanbieding van lesse sonder die gebruik van tegnologie (Byvoorbeeld sonder rekenaars en ‘n projektor). Bowen is van mening dat die normale PowerPoint aanbiedinge vervelig kan raak, maar hy is wel ‘n voorstaander van aanlyn besprekingsgroepe en PowerPoint skyfies buite die klas omgewing. Bowen verkies egter die tradisionele vraag-antwoord klasbesprekings (sonder die gebruik van elektroniese hulpmiddels) om sy leerders se aandag te behou.

Nog ‘n strategie wat Fyfe aanraak in die artikel is die “Work in the Text Mines” benadering. Brad Pasanek is van mening dat digitale tekste en tegnologie dit maklik gemaak het om spesifieke terme te identifiseer sonder om die hele teks te lees. Hy verduidelik verder dat dit nie noodwendig ‘n goeie verwikkeling is nie. Met dié dat dit so maklik is om kern konsepte te identifiseer, doen leerders nie meer moeite om die hele teks te lees nie. Gevolglik het hulle nie so ‘n goeie begrip oor die boek in geheel nie. Hy stel voor dat leerders gebruik moet maak van verkillende kleur highligters wanneer hulle tekste deurlees, om sodoende verskillende idees te kategoriseer. Leerders sal dan ‘n goeie begrip hê oor die teks as geheel, maar sal ook instaat wees om kern konsepte te identifiseer.

John Dewey het die volgende stelling gemaak: “If we teach today as we taught yesterday, we rob our children of tomorrow.” Ek stem in ‘n mate saam met Dewey. In ‘n wêreld wat draai rondom tegnologie, is dit tog nodig om tegnologie deel te maak van opvoeding. Tegnologie kan bydra tot die verryking van klas aanbiedinge, maar dit moet egter spaarsamig gebruik word om sodoende te verseker dat dit nie verval in ‘n vervelige gewoonte nie.

Ek wil graag afsluit met die ware woorde van ‘n graad een onderwyser: “Yes, kids love technology, but they also love legos, scented markers, handstands, books and mud puddles. It’s all about balance.” Dit is dus nodig dat daar ‘n balans sal wees tussen die gebruik van tegnologie en meer tradisionele metodes om sodoende klas aanbiedinge meer interessant te maak sonder dat dit verval in ‘n vervelige gewoonte.