Woensdag 17 Februarie 2016

Pulling the plug on Digital Pedagogy

Die neiging om onderrig digitaal aan te bied, het die afgelope paar jaar baie gewild geword in ons vinnig veranderende tegnologiese wêreld.  Baie onsekerheid bestaan egter oor wat digitale pedagogie presies behels, en die wanbegrip dat dit slegs elektronies en deur middel van tegnologie gedoen kan word, is algemeen.  Dalk bestaan hierdie wanbegrip juis omdat baie min mense werklik weet wat digitale pedagogie is. So wat is digitale pedagogie? Digitale pedagogie word gedefinieer as die gebruik van tegnologie as poging om die ervaring van onderrig te verryk of te verander.

Wanneer mens dink aan digitale pedagogie en hoe om klas aanbiedinge meer interessant te maak, is meeste onderwysers geneig om eerste na tegnologie te hardloop. Die siening dat ‘n PowerPoint aanbieding of ‘n kort video vanaf die internet die leerders se aandag sal hou, is egter ‘n wanbegrip wat bestaan.  In sy artikel Digital Pedagogy Unplugged, verduidelik Paul Fyfe dat digitale pedagogie nie noodwendig elektronies hoef te wees nie. Hy verduidelik verder dat daar verskeie nie-elektroniese pedagogiese strategieë bestaan wat net so effektief aangewend kan word om onderrig te verbeter en die leerders se aandag te behou.

Die eerste strategie wat Fyfe aanraak in die artikel is die sogenaamde “Teaching Naked” strategie wat José Bowen voorgestel het. Nou wat presies word bedoel met “Teaching Naked”? Dit behels die aanbieding van lesse sonder die gebruik van tegnologie (Byvoorbeeld sonder rekenaars en ‘n projektor). Bowen is van mening dat die normale PowerPoint aanbiedinge vervelig kan raak, maar hy is wel ‘n voorstaander van aanlyn besprekingsgroepe en PowerPoint skyfies buite die klas omgewing. Bowen verkies egter die tradisionele vraag-antwoord klasbesprekings (sonder die gebruik van elektroniese hulpmiddels) om sy leerders se aandag te behou.

Nog ‘n strategie wat Fyfe aanraak in die artikel is die “Work in the Text Mines” benadering. Brad Pasanek is van mening dat digitale tekste en tegnologie dit maklik gemaak het om spesifieke terme te identifiseer sonder om die hele teks te lees. Hy verduidelik verder dat dit nie noodwendig ‘n goeie verwikkeling is nie. Met dié dat dit so maklik is om kern konsepte te identifiseer, doen leerders nie meer moeite om die hele teks te lees nie. Gevolglik het hulle nie so ‘n goeie begrip oor die boek in geheel nie. Hy stel voor dat leerders gebruik moet maak van verkillende kleur highligters wanneer hulle tekste deurlees, om sodoende verskillende idees te kategoriseer. Leerders sal dan ‘n goeie begrip hê oor die teks as geheel, maar sal ook instaat wees om kern konsepte te identifiseer.

John Dewey het die volgende stelling gemaak: “If we teach today as we taught yesterday, we rob our children of tomorrow.” Ek stem in ‘n mate saam met Dewey. In ‘n wêreld wat draai rondom tegnologie, is dit tog nodig om tegnologie deel te maak van opvoeding. Tegnologie kan bydra tot die verryking van klas aanbiedinge, maar dit moet egter spaarsamig gebruik word om sodoende te verseker dat dit nie verval in ‘n vervelige gewoonte nie.

Ek wil graag afsluit met die ware woorde van ‘n graad een onderwyser: “Yes, kids love technology, but they also love legos, scented markers, handstands, books and mud puddles. It’s all about balance.” Dit is dus nodig dat daar ‘n balans sal wees tussen die gebruik van tegnologie en meer tradisionele metodes om sodoende klas aanbiedinge meer interessant te maak sonder dat dit verval in ‘n vervelige gewoonte.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking