Woensdag 16 Maart 2016

Die interaksie tussen pastorale sorg, effektiewe onderrig en die gebruik van hulpmiddels in die klaskamer

Volgens Foley (2014) is daar verskeie faktore wat bydra tot die perfekte leeromgewing wat optimale leer van die leerders sal verseker. Hierdie optimale leeromgewing kan geskep word deur pastorale sorg van leerders, effektiewe onderrig strategieë te gebruik en beskikbare hulpbronne nuttig en tot die leerders se voordeel aan te wend.

Pastorale sorg deurdring al die ander aspekte. Dit versterk die Kurrikulum en dit stel leerders in staat om te floreer. Pastorale sorg moet deel gemaak word van die skool kultuur aangesien die gesondheid en welstand van die leerders, sowel as die onderwysers, noodsaaklik is vir die effektiewe funksionering van ‘n skool. Pastorale sorg kan in die klaskamer toegepas of geïmplementeer word deur die onderwyser. ‘n Onderwyser wat altyd toeganklik is, ‘n atmosfeer van ope kommunikasie skep en luister na die leerders se kommer en sorge, sal pastorale sorg fasiliteer. Verder moet die onderwyser ook goeie onderrig bied in fondasie vaardighede en empatie toon teenoor leerders se omstandighede. Dit is belangrik dat onderwysers vir leerders met ongunstige omstandighede toerus met die nodige hulpmiddels en vaardighede om sodoende ‘n positiewe uitkoms te verseker. Onderwysers moet ook paraat wees en ingryp wanneer leerders geteister of geboelie word deur ander leerders. Pastorale sorg kan ook bewerkstellig word deur pro-sosiale interaksie met leerders, byvoorbeeld die onthou van leerders se verjaarsdae en belangrike familie gebeurtenisse.

Effektiewe onderrig kan verkry word deur akademiese-, gedrag- en sosiale elemente te integreer om sodoende ‘n positiewe klas omgewing te skep. Só ‘n positiewe klas omgewing kan geskep word deur leer doelwitte te prioritiseer deur die hoof idees uit te lig. Tyd in die klaskamer moet ook effektief gebruik word om sodoende te verseker dat die leerders se aandag behou word. Onderwysers moet baie geleenthede skep vir die leerders om aktief betrokke te kan wees, en daar moet ook seker gemaak word dat daar voldoende terugvoering aan die leerders verskaf word. ‘n Positiewe klas omgewing kan ook verder aangemoedig word deur die tafels so te rangskik dat dit die leerproses komplimenteer. Dit is ook belangrik dat daar ‘n gevoel van wedersydse respek sal heers tussen die leerders en die onderwyser. Dit is egter ook belangrik dat hierdie positiewe omgewing verder uitgebrei word om ook positiewe huis en skool verhoudings te ontwikkel. Onderwysers moet ook verskeie onderrig strategieë  inkorporeer, sodat al die leerders ‘n positiewe leer ervaring, sowel as positiewe akademiese uitkomstes sal behaal. ‘n Klaskamer moet ook ‘n emosioneel veilige omgewing wees waar respek vir mekaar aangemoedig word.

Die laaste faktor wat optimale leer kan bevorder, is om die beskikbare hulpbronne doeltreffend aan te wend. Dit is baie belangrik dat jy as onderwyser sal weet watter hulpbronne tot jou beskikking is, en ook hoe om hierdie middels aan te wend om leer te verbeter. Onderwysers moet gebruik maak van verskillende hulpmiddels (nuut en tradisioneel) om sodoende die klasse meer interessant te maak vir die leerders.

Abby Wills kry dit reg om die bogenoemde elemente reg aan te wend om sodoende haar klas interessant te hou en optimale leer te verseker. Hierdie elemente oorvleuel met mekaar om die beste akademiese-, gedrag- en sosiale omgewing te skep. Ons as onderwysers moet net kreatief en braaf genoeg wees om hierdie strategieë deel te maak van ons klasse.


2 opmerkings:

  1. Hi! Ek hou daarvan hoe jy bietjie verder gedink het oor die middels wat onderwysers nodig het om effektief klas te gee. Dit is veral toepaslik in suid afrika!

    AntwoordVee uit
  2. Hi! Ek hou daarvan hoe jy bietjie verder gedink het oor die middels wat onderwysers nodig het om effektief klas te gee. Dit is veral toepaslik in suid afrika!

    AntwoordVee uit